Voetslaan deur Leeupoort Vakansiedorp

VOETSLAAN – Al ses van ons besluit om Woensdag oggend vroeg te begin stap en om eers so teen 16:00 terug te wees by die chalet. Dit is twee rugsakke pak en vir elkeen twee bottels water. Elkeen moet `n wandelstok vat want `n ou loop lekkerder met `n stok in die hand want daar is plekke waar jy die takkies moet wegstoot hier op Leeupoort se voetslaanpaaie. Wanneer die paadjies kronkel besef jy nie dat jy al `n hele ent geloop het nie.

Dis Woensdag oggend om 6.30 op Leeupoort en ons drink gou `n warm koppie koffie en eet elkeen twee beskuite. Die ontbyt wat ons in die rugsak gepak het wil ons by die koppie gaan eet want dan sal ons al lekker skraal voel. Met die ooptrek van die gordyne maak ons al kennis met die eerste zebras. Hulle is so lastig dat jy amper nie by die deur kan uitgaan nie. Ons begin stap en eerste is buurman Ferdi, buurman van Ifafa 732, wat ons vriendelik groet en ons `n lekker stap toewens. Die fisante se geskree laat ons onmiddellik voel ons is buite in die natuur. Hierdie natuurreservaat het seker van die makste wild in die Republiek.

Ons sien dat baie mense vroeg oggend so teen ses uur stap wanneer dit lekker verfrissend is. Die besoekers geniet die netjiese gerieflike akkommodasie van Leeupoort Vakansiedorp wat binne `n natuurreservaat geleë is. Jy kry baie stappers in die pad en almal het iets te sê oor die wilde diere en die voëls en waar hulle wat gesien het. Jy hoor die stilte wat verbreek word deur die gesing van die voëls en die geblaas van die rooibokramme. Dis so ontspanne en jy vergeet van die daaglikse gebeurtenisse in die land.

Op die voetslaanpaaie kry ons nie soveel stappers as in die pad self nie, maar ons geniet dit om rustig te stap en kort-kort iets te sien. Eerste wat ons sien is die rooibokramme wat onder mekaar pronk om mekaar te beïndruk. Die volgende wat ons kry was die kwêvoëls wat daar bo in die bome sit en skree om ons posisie te verraai. Gelukkig is die diere nie wild nie en nie tien minute daarna nie en ons kry `n groot koedoe bul wat aan kruisbessie blare vreet. Toe hy ons sien stap hy weg maar ons was gelukkig om hom mooi te kon sien.

Die blou wildebeeste is baie mak want hulle kyk slegs op en gaan daarna voort om te wei asof ons nie bestaan nie. Daarna het ons `n likkewaan naby die dam gekry maar hy het vinnig pad gegee. Aan die voet van die koppie het ons ons tussen die tambotiebome tuis gemaak en die rugsak uitgepak en lekker weggeval aan die heerlike padkos. Na `n half uur het ons klaar ge-eet en lekker gerus. Die terugtog word aangepak en eerste wat ons kry was die elande wat maar `n afstand tussen ons gehou het. Wanneer jy met `n voertuig ry kom jy beslis heelwat nader aan die diere. Die meeste wat ons gekry het was die rooibokke met hul lammers.

Vier uur was ons terug. Vuurtjie word op die es aangepak en ons sit met ons voete op die es se rand en beleef die dag se uitstappie. Dis baie stil en net die katlagters wat jou gedagtes vasvang hier op Leeupoort.