Voëls – Gewone Janfrederik

Cape Robin

LEEUPOORT VOËLS – Die Gewone Janfrederik (Cossypha caffra) is ‘n klein insekvretende voëlspesie wat algemeen in suidelike en oostelike Afrika voorkom.  Die voël het sy naam te danke aan sy roep, wat na die lettergrepe jan-fre-d’rik klink.

BESKRYWING

Die janfrederik is 16 tot 17 cm lank.  Die volwassene is grys geveer aan die bokant, en effens olyfkleurig getint op die mantel vere.  Die gesig-sye, voor en agter die oog, is swarterig en met ‘n wit supersilium van die grys kroon geskei.  Die ken, keel, sentrale bors, kruis- en dekvere op die stert is oranje, en die sentrale stertvere is grys-bruinerig.  Die pens vere is bleekgrys.

Die swart snawel is kort en reguit, met ‘n effens af-geboë bo-snawel.  Die bene en pote is pienkerig grys, en die oë is bruin.  Die geslagte is soortgelyk, maar die jongvoël is donkerbruin bo, en vaalbruin onder geveer, met swaar vaalbruin merke aan die bokant en grysbruin merke op die bors.

VERSPREIDING

Dit is oorwegend ‘n broeiende standvoël in suidelike en oostelike Afrika.  Hulle is inheems aan Suid-Soedan, suidwaarts na Namibië, Zambië, Zimbabwe, Suid-Afrika, Lesotho en Eswatini.  Dit is ‘n algemene spesie aan woud rande, in struikgewas, in fynbos, die karoo, plantasies, tuine en parke.

GEDRAG

Die beskutting van digte plantegroei word verkies, waar voedsel en prooi naby grondvlak gesoek word.  Voedsel bestaan uit ongewerwelde insekte, klein paddas, klein akkedisse en vrugte.

Op Leeupoort is die janfrederik een van die voel soorte wat daarvan hou naby mense te wees.  Hulle betree jou huis sonder om te vra op soek na afval kossies en hulle is besonder lief vir gerasperde kaas.  Mense sit soms gerasperde kaas op bepaalde plekke uit om hierdie voel te lok en hulle vreet ook klein stukkies afval kos wat op die vloer val.

Die janfrederik se mak geaardheid vind baie byval by mense.  Die gevaar vir hierdie voëltjie is dat katte en selfs honde ‘n bedreiging vir hulle inhou.  Daarom moet mens maar baie versigtig wees waar en hoe jy ‘n voerplek maak indien jy voëls na jou tuin wil lok.

VOORTPLANTING

Hierdie voëltjies migreer gewoonlik nie.  Die mannetjie het sy gebied waar hy regeer.  Die wyfie betree daardie gebied gedurende broeityd en dan bly hulle gewoonlik lewenslank maats.  Albei die mannetjie en wyfie bring die materiaal bymekaar om die nessie te bou, hoewel die wyfie hoofsaaklik die bouwerk doen.  Die nes word meestal laag naby die grond gebou.  Die nes is redelik diep, koppievormig en is heeltemal oop aan die bokant.

Die wyfie sit op die nes gedurende broeityd en verlaat dit slegs wanneer sy gaan kos soek terwyl die mannetjie dan tydelik waarneem op die nes.  Daar is tye wanneer die mannetjie vir haar kos bring.  Die mannetjie soek kos naby die nes sodat hy kan hoor wanneer die wyfie roep.

Hul kenmerklikke roep verraai gewoonlik hul teenwoordigheid, maar hulle is ook bekend daarvoor dat hulle soms ander voëls namaak.

EKSTERNE VERWYSINGS

  • Warwick en Michèle Tarboton van die naburige dorp Nylstroom (Modimolle), vertoon pragtige foto’s van die Gewone Janfrederik op hul webtuiste.
  • Wikipedia – Gewone Janfrederik.
  • In Kenneth Newman se Voëls van Suider Afrika 1984 word die Gewone Janfrederik gelys op Bladsy 324 in die kategorie Insekvreters (1) – lewerike tot janfrederike.

Ander janfrederike wat ook in die gids gelys word is die volgende:

  • Witkeel Janfrederik
  • Heuglinse Janfrederik
  • Gunningse Janfrederik
  • Bandkeel Janfrederik
  • Witkol Janfrederik
  • Lawaaimaker Janfrederik
  • Natal Janfrederik

ERKENNING

  1. Hoof foto deur Cossypha Caffra (Pretoria)

TAALKEUSE