SLANGE – Alle slange het gesplete tonge waarmee hulle reuke optel. Met paartyd paar die wyfie met verskeie mannetjies en dan bly hulle ook slegs met paartyd bymekaar. Hulle vervel een maal per jaar en is vleisvreters, maar sommige soorte is ook lief vir eiers en die klein soorte vreet ook insekte. Hierdie koudbloedige reptiele beweeg besonder baie rond wanneer dit warm is en soek dan kos om te vreet.
Dit is selde dat mense deur slange gebyt of gepik word. Om te voorkom dat slange in jou huis gaan, kan jy Snake Repel aan die vensterbanke en onder die deurkosyne spuit. Wanneer jy op Leeupoort braai, kan jy ook rondom die gebied waar gebraai word op die grond spuit sodat die reuk die slange kan weghou. Hierdie middel is blykbaar effektief vir enige soort slang. Snake Repel moet elke maand aangewend word want die reuk verdwyn of word afgewas deur reën en die effektiwiteit verminder.
Daar word gesê dat driekwart van ons slange nie giftig is nie, maar indien jy nie weet of ‘n slang giftig is of nie, bly liewer weg en soek onmiddellik die nodige behandeling indien jy gebyt of gepik word. Slange is sku en probeer om mense te vermy. Wanneer `n slang jou egter pla, moenie die slang doodmaak nie; hulle is deel van die natuur en is nodig om ‘n ekologiese balans te handhaaf.
Kontak ons plaaslike Natuurbewaring om ‘n slang te verwyder wanneer nodig.
Daar is talle spreekwoorde in verskeie tale wat verband hou met slange. Hier volg ‘n paar voorbeelde van Afrikaanse spreekwoorde met die betekenis:
- `n Slang aan jou boesem koester – Jy oorlaai ‘n skurk met weldade.
- Daar is ‘n slang in die gras – Iets is nie pluis (reg) nie.
- Iemand kan `n slang vang – Wanneer ‘n persoon briesend (kwaad) is.
As jy nog steeds wonder; ja ons natuurbewaarders kan slange vang, maar dit beteken nie dat hulle briesend is nie. Hulle is baie vriendelik, tot jy iets aanvang wat die natuur benadeel.













