Al Huilende Huilbos

NATUURRESERVAAT – Die Huilboom huil wanneer hy seerkry. Hierdie boom op Leeupoort is een van die grootste gemerkte huilbome in Suid Afrika.

Om onder die boom op die rusbankie op Leeupoort te sit en na te dink oor die skepping, die natuur, die lewe en hierdie besondere boom, is nogal `n belewenis. Jy kry sommer seer vir die boom se part om te dink dat die boom “huil” wanneer hy “seergemaak” word. Dit voel asof die boom soortgelyke gevoelens as die mens ervaar wanneer ons ondeurdagte dade soms skade aan die natuur aanrig.

Dit is `n unieke soort boom wat vloeistof afskei wanneer daar “wonde” aan die boom aangebring word. Dit is `n bladwisselende bosveldboom en boomsap lek uit plekke waar die bas beskadig word. Wanneer jy die oggend by die boom aandoen, en `n natplek iewers onder die boom gewaar, dan kan jy maar weet dat dit vloeistof is wat iewers uit `n tak van die boom gedrup het. Dit is waar die naam huilbos of huilboom vandaan kom.

Op Leeupoort is ons gelukkig om goed bedeeld te wees met `n groot aantal huilbome. Daarbenewens het ons ook ‘n groot verskeidenheid ander bome. Leeupoort het sowat 40 spesies inheemse bome.