Kuifkophoutkapper

HOUTKAPPER – Die kuifkophoutkapper is een van die kleurvolle voëls in Suid Afrika en hulle maak`n skril aanhoudende tril-geluid. Hulle het ‘n dik sterk snawel en wees versigtig dat daardie snawel nie jou vinger bykom nie. Hulle is baie dapper en verjaag maklik al die ander soorte houtkappers, asook duiwe en lysters wat groter is as die kuifkophoutkapper. Dit wys ook net hoe manhaftig hierdie voël is. Hulle verjaag baie maklik `n ander voël wat op `n nes sit en broei en vreet dan die eiers op. Verder vreet hulle insekte en vrugte. Dit is aangeteken dat hierdie kwaai voël al `n rot en slang aangevat en dood gepik het.

Hulle kom gewoonlik in pare voor en bly in die omgewing waar hulle maklik kos kry. Op Leeupoort Vakansiedorp verjaag die inwoners nie die voëls en diere nie, en daarom is die voëls en diere so mak. Hulle soek `n gerieflike gat in `n boom waar hulle nesmaak. Die kleintjies broei uit sonder vere en kan ook nie sien nie. Die ouers voer hulle vir so twee weke tot hul vere uitgegroei het en hul oë oop is.