Fees Der Feeste

Wilfra Konsertina

KONSERTINAFEES – Die Konsertinafees wat gehou was van 06 tot 08 Mei 2022 op Leeupoort Vakansiedorp, was `n reuse sukses en `n rekord aantal besoekers het die geleentheid bygewoon.  Piere Retief wat die feesrede gelewer het, het gesê dat dit die grootste Boeremusiekfees was wat hy ooit bygewoon het.

Rocco de Villiers, Pianis en Gasheer, het die mense vermaak met sy kwikslae en die gehoor het behoorlik aan sy lippe gehang.  `n Groot aantal besoekers het tot laataand gedans.  Wie kan nou stil sit met boeremusiek in jou ore?

Die weersomstandighede was perfek.  Die saal was selfs te klein vir die groot aantal gaste en baie mense het tot om die groot swembad gesit en dit terdeë geniet.

Die fees besoekers het nie baie tyd gehad om deur Leeupoort Vakansiedorp se reservaat te ry om die mak wildsbokke van nader te besigtig nie, maar gelukkig is die wild ook nie menssku nie.  Een van die naweek besoekers het vertel hoe hy groot geskrik het toe `n koedoe oor sy skouer die kaasbroodjie uit sy hand wou eet waar hulle Saterdag-oggend buite om die braaivleisvuur gesit het.