Konsertinafees te Leeupoort – 6 tot 8 Mei 2022

GELEENTHEID – Leeupoort Vakansiedorp hou vanjaar weer fees vanaf 6 Mei 2022 tot 8 Mei 2022 waartydens `n huldeblyk gebring gaan word aan Hendrik Susan die groot vioolspeler.  Piet Bodenstein en sy span is weer ernstig besig om die nodige reëlings te tref.

Hierdie mense poog elke jaar om musiek rekords te verbeter.  Hulle het die wêreldrekord verbeter van die meeste konsertinas wat op een slag en op dieselfde plek en datum plaasgevind het, en dit nogal op Leeupoort Vakansiedorp.  Daar het toe 52 konsertinaspelers gesamentlik `n hele aantal items gelewer vir `n groot gehoor op Leeupoort Vakansiedorp.

Dan het hulle ook ‘n allemintige 31 trekklavierspelers op een slag laat optree tydens die “Pensklaviere” geleentheid.  Gedurende November 2021 durf Piet en sy kolegas ook `n poging aan om te kyk hoeveel mondfluitjie spelers tegelyk kan optree tydens die Konsertinafees.  Daar het toe 33 persone met hul “bekfluitjies” die gaste onthaal.  Daar sal nog gekyk word of dit nie dalk ‘n Suid Afrikaanse rekord kan wees nie.

Gedurende die konsertinafees van 6 tot 8 Mei vanjaar, gaan daar nou weer gekyk word na `n poging om te sien hoeveel banjospelers tegelyk kan optree.

Die banjo is in die VSA in die 1800s ontwikkel deur Joel Sweeney en `n soortgelyke instrument het ook in Afrika ontwikkel, maar daar kan nie vasgestel word wanneer en waar nie.  Die kitaar het meer note maar die banjo is glo meer ingewikkeld om te leer speel.

Daar is talle video’s op die internet beskikbaar wat mens leer hoe om `n banjo te speel.  Wie weet, dalk kan jy nog betyds begin leer om deel te wees van die rekordpoging om die meeste banjospelers saam te laat speel.  Probeer gerus die liedjie “Cripple Creek”.

Tydens ons rondsnuffel op die internet, het ons op “Banjo Razzamataz”, opgevoer deur Leslie Moller, afgekom.  Die man kan ‘n banjo lekker tokkel.  Besoek gerus sy YouTube kanaal. Let asseblief daarop dat hierdie video geensins verband hou met die Konsertinafees te Leeupoort nie, ons deel bloot sy video vir musiek-plesier.

`n Huldeblyk vir Henrik Susan (4 Mei 1903 – 26 April 1963), die welbekende groot vioolspeler, gaan ook gelewer word met `n aantal van sy nommertjies wat die gehoor gaan verras. Lees gerus meer oor Cornelis Hendricus Susan op YouTube waar daar so bietjie meer vertel word oor sy herkoms en lewe.

Onthou om vroegtydig verblyfreëlings te tref vir die Konsertinafees vanjaar anders gaan u dalk vasbrand.  Daar is verskeie selfsorg vakansiehuise beskikbaar teen baie billike pryse.  ‘n Boer het mos ‘n plan en dit kan net lekker wees om so saam te kuier in die Bosveld met boeremusiek en die pragtige natuur om te geniet.

Ons sien daarna uit om u vanjaar weer op Leeupoort Vakansiedorp te verwelkom.